Spyt kom te laat – en teen ‘n prys – vir ons kopers.

“Caveat subscriptor” – “laat die ondertekenaar versigtig wees”.

‘n Onlangse beslissing van die Hooggeregshof wys weereens dat as jy ‘n ooreenkoms gaan teken, moet jy vir jou eie beswil en beskerming, die ooreenkoms ten minste goed deurlees en die bepalings daarin en die gevolge van die ooreenkoms verstaan.

Die opknapper se droom en spyt wat te laat kom.  

  • Die egpaar het ‘n skouhuis besoek wat as ‘n “opknapper se droom” bemark is. Hulle het onmiddellik ‘n aanbod onderteken om die huis vir R550,000 (wat R20,000 minder as die vraprys was) te koop.
  • Die verkoper het die aanbod daardie selfde middag aanvaar, nadat die agent met die verkoper ooreengekom het om haar kommissie na R40,000 te verminder. Die agent het ‘n afskrif van die verkoopooreenkoms aan die kopers gestuur met die goeie nuus dat hul aanbod aanvaar is.
  • Vroeg die volgende oggend het die kopers ‘n e-pos aan die agent gestuur en gesê dat die koste van opknappings beteken dat die kooptransaksie nie vir hulle haalbaar was nie.“Therefore I hereby decline my offer to purchase and thanks for your time.”
  • Nadat die agent regsadvies ingewin het, het die agent die kopers ingelig dat ‘n bindende verkoopooreenkoms reeds gesluit is en dat die verkoop moet voortgaan.
  • Die kopers se reaksie was om aan te dui dat die verkoping onderhewig was aan hul dogter se goedkeuring. Die agent laat weet dat as die sogenaamde voorwaarde wel bespreek was, sou die kopers dit baie maklik as ‘n spesiale voorwaarde in die ooreenkoms kon inskryf toe hulle die aanbod onderteken het. Daar was geen sodanige voorwaarde in die ooreenkoms nie.
  • Die verkoper het die huis daarna aan ‘n ander koper verkoop. Die agent (wat nie by die tweede verkooptransaksie betrokke was nie) het die kopers gedagvaar vir die ooreengekome kommissie van R40,000. Dit ingevolge ‘n standaardklousule in die koopooreenkoms wat die kopers aanspreeklik hou vir kommissie by kontrakbreuk deur die kopers.

 

“Laat die ondertekenaar versigtig wees!”

 

  • Die hof het die kopers se beswaar dat hulle nie besef het dat hulle aanspreeklik sou wees om die kommissie te betaal as hulle die koopooreenkoms verbreek nie, van die hand gewys. “Die caveat subscriptor stelreël (“laat die ondertekenaar versigtig wees!”) is duidelik. ‘n Persoon wat ‘n kontrak onderteken dui daarmee hul instemming met die inhoud van die dokument aan asook dat hulle deur die dokument gebind sal word, al blyk dit later dat die bepalings nie heeltemal na wense is nie. In so ‘n geval het hulle net hulself om te blameer.” Met ander woorde, lees en verstaan enige ooreenkoms voordat jy dit onderteken – as jy die ooreenkoms onderteken het, is jy gebonde of jy dit gelees het of nie.

  • Die kopers kon ook nie bewys dat die verkooptransaksie onderhewig was aan hul dogter se goedkeuring nie, aangesien daar geen voorwaarde in die ooreenkoms hieroor was nie. Jy moet seker maak dat enige spesiale voorwaardes wat jy deel wil maak van die verkooptransaksie, in die getekende ooreenkoms ingevoeg word.

  • Hier was ook geen aanduiding of bewyse van wanvoorstelling of bedrog wat die kopers oorreed het om te teken nie. As hulle nie die bepalings van die ooreenkoms verstaan het nie, veral die kommissieklousule, was dit omdat hulle nie die ooreenkoms behoorlik deurgelees het, voordat hulle dit vrywilliglik onderteken het nie.
  • Die kopers moet die kommissie van R40 000 plus twee stelle regskostes betaal.

Die duidelike les – moenie die kontrak teken as jy nie presies verstaan waartoe jy jou skriftelik verbind nie

 

Provided by Ewald Burger Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.

Disclaimer
Die inligting hierin vervat is van ‘n algemene aard en moet nie as professionele advies gebruik word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u professionele adviseur vir spesifieke en toegepaste advies.

Scroll to Top