Jou regte met die koop van ‘n gebruikte motor.

“Die koper het honderd oë nodig, die verkoper net een” (Vertaalde spreekwoord)

Jy koop ‘n gebruikte voertuig wat dan baie vinnig daarna blyk ‘n probleemvoertuig te wees. Jy gaan terug na die handelaar wat sê “Jammer, my maat, jy het dit gekoop in die toestand soos wat dit is, dit is gevolglik nie ons probleem nie”. Wat kan jy doen en wat is jou regte?


As jy by ‘n private verkoper koop.

Wanneer ons die Wet op Verbruikersbeskerming hieronder bespreek, let daarop dat die wet slegs van toepassing is op handelaars en op ander verkopers wat “in die gewone loop van sake” voertuie verkoop. Private voertuigverkope sal nie onder die verbruikerswet val nie en enige gesoute private verkoper sal seker maak dat hy of sy onderhewig aan die “voetstoots” klousule sal verkoop – “ek verkoop die voertuig aan jou in die toestand soos wat hy daar staan”. Voetstoots is heeltemal aanvaarbaar en geldig.  Die risiko oor die toestand van die voertuig bly dan grootliks op jou as die koper – tensy jy bedrog aan die kant van die verkoper kan bewys wat bekende gebreke verdoesel en verberg het. Daarom is dit noodsaaklik dat jy die voertuig behoorlik inspekteer – of selfs beter – deur ‘n werktuigkundige of ‘n ander motorkenner laat ondersoek en afteken – voordat jy dan aangaan met die transaksie en die koopprys oorbetaal.


As jy by ‘n handelaar koop – is die Wet op Verbruikersbeskerming aan jou kant.

Die situasie wanneer jy ‘n voertuig by ‘n handelaar koop is gelukkig ‘n heel ander saak. Die Verbruikerswet bepaal dat:

  • Goedere moet redelik geskik wees vir die doel en aanwending waarvoor dit oor die algemeen gebruik gaan word … dit moet van goeie gehalte wees, in ‘n goeie werkende toestand wees en vry wees van enige defekte … dit moet vir ‘n redelike tydperk bruikbaar en duursaam wees, met inagneming van die normale gebruik waarvoor die item oor die algemeen bestem sal wees en al die omliggende omstandighede wanneer dit aan die verbruiker verskaf word.
  • Die handelaar bied aan jou as verbruiker outomaties ‘n geïmpliseerde waarborg van kwaliteit dat die goedere aan die redelike vereistes en standaarde voldoen.
  • Indien die goedere nie aan hierdie standaarde voldoen nie, kan jy dit terugbesorg (op die verkoper se risiko en koste) binne 6 maande na aflewering en dan moet die verkoper – ingevolge die koper (die verbruiker) se keuse – óf die item herstel óf die item vervang óf jou ten volle terugbetaal.

Let daarop dat die gebreke waaroor gekla word, nie oppervlakkig of  kosmeties of van ‘n nietige aard kan wees nie. Soos die Appèlhof dit gestel het: “Not every small fault is a defect as defined. It must either render the goods less acceptable than people generally would be reasonably entitled to expect from goods of that type, or it must render the goods less useful, practicable or safe for the purpose for which they were purchased.”


Ons kyk na vier toepaslike gevalle:

Die Nasionale Verbruikerstribunaal hanteer duisende verbruikersklagtes, en baie daarvan hou verband met geskille oor gebruikte motors. As jy ‘n klagte verwys, dan is dit vir jou om te bewys dat die handelaar in stryd met die Verbruikerswet opgetree het. As die tribunaal in jou guns bevind, is die tribunaal by magte om administratiewe boetes aan die handelaar op te lê en ook om regstelling te beveel. Ons kyk na ‘n paar onlangse uitsprake van die tribunaal – om te wys hoe dit in die praktyk werk –

  1. Na vier maande kan die Mercedes nie meer ry nie.‘n Paartjie het ‘n Mercedes Benz 220 CDI Outomatiese motorvoertuig vir R225 900 gekoop. Vier maande later kon die voertuig nie meer ry nie. Na verdere ondersoek is hulle R47 782 vir die nodige herstelwerk gekwoteer. Die handelaar se posisie was dat dit nie aanspreeklik was nie, want dit was ‘n kwessie van slytasie, die kopers het geweet van die voertuig se hoë kilometers en hulle het met die aankoop van die voertuig besluit om nie ‘n bykomende waarborg te koop nie.

    Die kopers het ‘n “welwillendheidsaanbod” van R10 000 van die handelaar van die hand gewys, en het die saak na die Ombudsman vir die Motorbedryf verwys. Die saak het vandaar sy weg na die tribunaal gevind. Die tribunaal bevind dat die handelaar nie daarin geslaag het om ‘n saak uit te maak dat die beskadigde onderdele die gevolg van slytasie was nie. Die tribunaal het die handelaar ingevolge die Verbruikerswet skuldig bevind aan verbode gedrag en het die handelaar beveel om die kopers se koopprys ten volle aan hulle terug te betaal.

  2. Verkeerde bande op die voertuig – die handelaar is beveel om die bande te vervang en om ‘n administratiewe boete van R50 000 te betaal.’n Verbruiker het ’n 2015 Mercedes Benz C200 Bluetec Avantgarde A/T-motorvoertuig vir R300,469 gekoop. Sy het twee dae later vasgestel dat die voertuig standaard bande het en nie “run-flat”  bande ingevolge die vervaardiger se spesifikasies nie. Dit het beteken dat daar nie plek in die voertuig vir ‘n noodwiel was nie, en sy is meegedeel dat dit daartoe kan lei dat haar versekeraars nie eise wat gemaak word, sou uitbetaal nie.

    Die handelaar het geweier om in te tree en het beweer dat die standaard bande “100% volgens spesifikasie en padwaardig” was. Die tribunaal bevind dat die handelaar in stryd met die Verbruikerswet opgetree het, en beveel die handelaar om die bande met “run-flat” bande te vervang. Die tribunaal lê dan ook so in die verbygaan ‘n administratiewe boete van R50 000 op.

  3. ’n Onbetroubare voertuig wat heeltyd gaan staan en ‘n boete van R100 000.’n 2015 jaarmodel Toyota Avanza-voertuig, met 172 475 kilometer op die afstandmeter, het aanhoudend onklaar geraak en moes deurlopend deur die handelaar herstel word. Na drie maande se gesukkel op hierdie trant, was die koper raadop en het hy die  handelaar aangesê om die voertuig terug te neem en sy koopprys aan hom terug te betaal.

    Die handelaar het egter daarop aangedring om die voertuig weer te herstel, en het die koper aanspreeklik gehou vir ‘n tekort van R6,000 op die bedrag wat die polis uitbetaal het, wat die herstelwerk se kostes moes dek. Dan was daar nog bergingskostes van R58,000. Die koper kon dit nie betaal nie, plus hy het agterstallig geraak met sy finansieringsooreenkoms en die finansieringsbank het die voertuig teruggeneem en verkoop.

    Die handelaar voer aan dat die koper erken het dat die voertuig in ‘n goeie toestand was toe hy die kontrolelys geteken het met ontvangs van die voertuig. Dit sou inhou dat die koper “die voertuig tot sy bevrediging gekoop het”. Die tribunaal bevind egter dat die handelaar skuldig was aan gedrag wat deur die Verbruikerswet verbied is. Die tribunaal lê ‘n administratiewe boete van R100 000 aan die handelaar op. Die koper kan sy eis vir skadevergoeding in die  hooggeregshof instel met ‘n sertifikaat van die tribunaal wat sy bevindinge bevestig.

  4. Ongelukskade verminder ‘n voertuig se waarde met R110 000.

    ‘n Handelaar het ‘n 2015 jaarmodel Isuzu KB300 vir R342,900 verkoop. Dit het later uitgekom dat die voertuig in ‘n groot botsing betrokke was kort voordat dit aan die koper verkoop is, en dat die waarde van die voertuig as gevolg van hierdie ongelukskade slegs R230,900 was.  Die tribunaal bevind dat die wesenlike feit van die botsing nie aan die koper geopenbaar is ten tyde van die verkoop nie. Die handelaar se optrede is verbode gedrag ingevolge die Verbruikerswet. Die koper is hierdeur finansieel benadeel en hy is gevolglik geregtig op vergoeding. Die koper het nou ‘n sertifikaat van die tribunaal wat dit bevestig en hy kan aangaan met sy skadevergoedingseis in die hof.

Provided by Ewald Burger Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.

Disclaimer
Die inligting hierin vervat is van ‘n algemene aard en moet nie as professionele advies gebruik word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u professionele adviseur vir spesifieke en toegepaste advies.

Scroll to Top