‘n Skadevergoedingeis – die elite atleet teenoor die onoplettende fotograaf.

Deur: Ewald Burger Prokureurs
“This is a running down case: literally” (Uittreksel uit uitspraak hieronder)

Die toneel is die ikoniese Seepunt-promenade in Kaapstad. ‘n Elite-hardloper wat aan ‘n wedloop deelneem, bots met ‘n voetganger wat besig was met ‘n rustige Sondagstappie. Die voetganger doen ernstige beserings op en sy dagvaar beide die hardloper en die wedrenorganiseerder vir skadevergoeding in die bedrag van R718 000.

Die uitkoms van die saak dien as ‘n herinnering aan ons almal om te alle tye van ons omgewing bewus te wees – ‘n oomblik van onoplettendheid kan alles in ‘n breukdeel van ‘n sekonde verander. Soos wat die feite in hierdie saak illustreer…

Die botsing tydens die wedloop en die eis van R718 000

  • Hoewel die Hof teenstrydige getuienis oor die spesifieke besonderhede aangehoor het, was die agtergrond en ligging van hierdie botsing nie in dispuut nie. Die Promenade in Seepunt, Kaapstad. ‘n Gewilde openbare area op ‘n Sondag wat altyd wemel van mense, voetgangers, fietsryers, babawaentjies, hondestappers, en rolskaatsers. Op die betrokke dag was daar ook duisende deelnemers aan ‘n “Dameswedloop” wat bykomend hanteer moes word. Die deelnemers het gewissel van topatlete wat aan ‘n “elite” resies deelneem, tot dié wat die “Pretstap” in kostuumdrag afgelê het.
  • Ons latere eiseres. Uit vir ‘n rustige Sondagstappie saam met ‘n vriendin, beland die eiseres “op die verkeerde plek op die verkeerde tyd”. Sy is salig onbewus van die ongeluk wat haar lewe gaan verander. Sy verrig ‘n goeie daad en stem in om ‘n groepfoto (“happy snap”) van ‘n groep Pretstap-deelnemers te neem.
  • Nadat sy die foto geneem het, beweeg sy oor die sypaadjie om die kamera aan die eienaar terug te gee. ‘n Deelnemer aan die “elite-wedloop” hardloop tromp-op in haar vas. Die topatleet hou aan met hardloop, want sy wil haar wedloop so gou moontlik voltooi.
  • Bewerings dat die hardloper (wat blykbaar teen ongeveer 20 km/h gehardloop het) ‘n waarskuwing geskree het (iets in die lyn van “kom uit my pad”) en die stapper met geweld eenkant toe gestoot het, was in dispuut. Wat wel duidelik was, was dat sy grond toe gestamp is en dat sy ‘n heupbesering opgedoen het. Die stapper (ons eiseres) is hierna in ‘n ambulans hospitaal toe geneem en dit het later tot ‘n heupvervangingsoperasie gelei.
  • Die eiseres het beide die hardloper en die wedlooporganiseerder vir skadevergoeding van R718 000 gedagvaar. Die hof se uitspraak en bevindings hou vir ons almal lesse in.


Die wedlooporganiseerder is nie aanspreeklik nie

Op grond van die getuienis wat aangebied is, het die hof die wedrenorganiseerder en die wedlooptoesighouer (“Marshall”), wat in die omgewing van die botsing diens gedoen het, van enige nalatigheid vrygespreek.


Die hardloper se nalatigheid

Die hof het beslis dat die hardloper in ‘n openbare ruimte was. Sy moes die moontlikheid voorsien het dat sy ander sypaadjiegebruikers gaan teëkom. Sy het ‘n plig gehad om behoorlik op die uitkyk te wees. “Sy moes in ag neem dat die meeste van die gewone voetgangers buite was om die vars seelug te geniet, eerder as om na ‘n atletiekwedloop te kom kyk. Ons weet uit gewone menslike ervaring dat sulke persone irrasioneel kan optree en as’t ware in die pad kan gaan staan .” (Eie beklemtoning en vrylik vertaal).

Die hardloper was nalatig deurdat sy net op die grond onmiddellik voor haar gefokus het. Deur te “hardloop asof sy in ‘n borrel was, onbewus van wat om haar gebeur het en slegs daarop te fokus om haar doelwit om die wedloop te wen, te bereik.” Sy kon die botsing met min moeite vermy het, sonder dat sy haar kanse in die wedloop ernstig sou beïnvloed het.


Die voetganger se 70% bydraende nalatigheid

Die hof het al die omstandighede in ag geneem, en bevind dat die eiseres slegs geregtig was op 30% van die skade wat bewys kon word. (Die eiseres is later aan onverwante oorsake oorlede, so haar eksekuteur het teen hierdie tyd die eis namens haar boedel in die hof hanteer.)

Volgens die hof was sy aansienlik meer nalatig as die hardloper. Sy moes van die wedloop bewus gewees het, sy het geweet dat hardlopers verby haar gesnel het, en sy is ook gewaarsku dat die hardlopers verbykom.

Daar is ‘n ironiese Engelse gesegde wat lui, “no good deed goes unpunished”, wat hier toepassing vind. Die waarheid is dat ons dikwels (in die lewe en ook ingevolge ons Suid-Afrikaanse regstelsel) vir ons eie skade aanspreeklik is.


Wees te alle tye bewus van jou omgewing!

Dit is ‘n moeilike les om te leer, maar ons regstelsel vereis dat ons aan sekere standaarde moet voldoen. Een daarvan is om behoorlik uit te kyk, veral in ‘n openbare ruimte. ‘n Oomblik se onoplettendheid kan binne ‘n breukdeel van ‘n sekonde jou lewe onherroeplik verander. Dit kan lei tot fisiese beserings en daar is altyd die risiko van skadevergoedingseise en teeneise van bydraende nalatigheid.

Kry so gou moontlik regsadvies as die ongeluk jou tref en jy betrokke is by ‘n voorval wat beserings of ander verlies veroorsaak!

Oorspronklike artikel

Scroll to Top